Vakansie - 2 Maart 2002
Ons het die 2de Maart(Saterdagoggend) vanaf Raleigh-Durham
Lughawe gevlieg na Atlanta. Die Vrydagaand moes Johan nog 'n klomp goed van die werk afgehandel kry en het ek
gedink dat ons nooit in die bed gaan kom nie. Ons is eers na eenuur die oggend bed toe en die volgende oggend baie vroeg
wakker, want die taxi het ons om 6:45vm gekry. Die hele Vrydag was ek so opgewonde, want dit is toe mos inpak en al
die dinge so die nag kon ek in elk geval ook nie goed slaap nie. Wel so is ons toe die oggend weg lughawe en toe daar
ontbyt op die lughawe gehad en deur na Atlanta. Vanaf Atlanta het ons deur gevlieg na New York en daarvandaan kaap toe.
Die vlugte was baie lekker en natuurlik het ons geen vertragings gehad nie wat natuurlik baie lekker was.



Ek het gedink dat ek baie op die vliegtuig gaan lees,
maar as ek nie fliek gekyk het nie dan het ek geslaap. Wel, die aand van die 3de by die lughawe aangekom. Johan
se nogal vir my, " sal dit nie lekker wees as Piet-hulle vir ons op die lughawe kry nie!", ek se toe nee man, want hulle weet
mos dat ons 'n kar gaan huur so ek dink nie dat hulle daar sal wees nie. Raai wat?????? Toe ons inkom
toe staan hulle daar. Dit was so lekker om hulle weer te sien en natuurlik is dit 'n geraas, soos net die Marais' kan
raas. Eers toe gaan koffie drink en toe het die twee broers 'n kar gaan huur en is ons weg na Piet-hul se huis. Daar
het ons natuurlik verder gesels en tot wie weet watter tyd van die nag, of moet ek se die oggend, lekker man !!!!!
Die volgende dag natuurlik wou Annecke net Tygervallei toe
en het ons so gemaak. Die hele oggend in Tygervallei rondgeloop en toe later die middag vir Karin(vriendin van ons)
ontmoet vir middagete.
Dit was so lekker en natuurlik weer 'n hond uit 'n
bos gesels.
Maandagaand natuurlik gebraai en soos julle kan sien is Johan
en Piet weer goed besig om die vlamme te laat kook en die twee met hulle wyn glase - GESELLIG!!!!! Kyk hoe wit is Johan
nog teen Piet. Die vleis was heerlik en Lorna het my bederf met skorsies, want ek het omtrent 5jaar laas skorsies gehad,
en die lekkerste ander groente ook. Kan julle glo 'n mens eet skorsies by braaivleis!!!!
Johan het ook een van sy ou vriende, Ernst Viljoen opgesoek
wat altyd op Uilenkraalsmond gekamp het.
Johan se vriend Ernst met sy seuntjie en vrou en die tannie
aan sy regterkant is sy Ma
Dinsdagoggend vroeg het ons na Ma geskiet by Pearly Beach.
Ai, dit was lekker om weer daardie pad te ry en hoe nader ons aan Pearly Beach gekom het hoe opgewonder het ons geword.
Seker die oggend so 10uur by Ma aangekom en toe was dit natuurlik groet en gesels en koffie drink en Ma het die heerlikste
sjokoladekoek gebak - Johan natuurlik vroeg more moes hy koek he. Ek dink toe ons die volgende middag daar wegrywas
die hele koek opgeeet. Die middag het ons gebraai en natuurlik, raai wat, Ma het vir my 'n hele pot skorsies gekook.
Weereens eet ons toe braaivleis en skorsies, maar mense was dit nou lekker.



Oom Dirk en tannie Alta het saam gebraai, of moet ek
se ons het by hulle gebraai. Dit was lekker en natuurlik moes ek toe saam met oom Dirk, vir die eerste keer in my lewe,
'n lekker brandewyntjie drink. Oom Dirk dit was lekker!!!! Ek dink ek het op die ou end twee of was dit drie gedrink,
ek kan nie meer onthou nie, want ek verbeel my oom Dirk het my later met hoenderpitte op my kop gegooi, of was dit ook my
verbeelding? Die aand het ek, Johan en Ma na Willie Kotze en sy vrou gegaan, 'n vriend van Johan op Gansbaai, en het
ons daar lekker gekuier. Toe later die aand gaan uiteet en natuurlik vis gaan eet en was dit uit die boeke. Ma
het ons geneem na 'n restaurant in Gansbaai, Ciro's, of so iets, maar mense dit was heerlik. Toe huistoe en eers koffie
gaan drink en toe gaan slaap. Die volgende dag opgestaan heerlik langs die strand gaan loop...
...en toe natuurlik klaar gemaak om weer twee uur in
die Strand te wees, want ons het 'n afspraak met iemand gehad oor aanneming.
Wel ons het toe twee uur betyds by die vrou aangekom en toe
het ons "onderhoud" begin. Dit was verskriklik interessant, maar ook baie uitputtend. Al die vrae wat sy vra en
ons vrae en besluite - maar hoe meer ons gehoor het hoe meer het ons opgewonder geraak. Na 6ure was dit alles klaar
en was ons goedgekeur vir

die aanneming. Ons het toe ook gehoor dat wanneer ons
hoor dat ons 'n baba gaan kry moet ons S.A. toe gaan en moet ons dan vir twee maande in S.A. bly. Die rede is omdat
die biologiese moeder 2maande het om haar aanneming weer terug te trek. Wel, ons het daaroor gebid nog voordat ons na
haar gegaan het vir die afspraak so ons het dit so aanvaar en wat moet gebeur sal gebeur. Ons het ook nou intussen aan
hierdie kant gehoor dat ons eers moet aansoek doen vir ons "green card" voordat ons kan aanneem. Dit sal ook te moeilik
wees om vir twee maande in S.A. te wees terwyl die proses nog aan die gang is vir die "green card", omdat ons dan nie uit
die land mag gaan nie. So ons gaan nou maar eers aansoek doen en dan seker oor 'n jaar of 6maande, hulle kan nie vir
ons presies se nie, sal ons dan weer aangaan met die aannemingsproses.

Wel die volgende dag het ons weer vir Dries (vriend van Johan)
en sy vrou, Leana, in Tygervallei gekry vir middagete en toe na die tyd saam met hulle na tannie Babsie(Dries se vrou
se ouers) gegaan. Daar lekker gesels en natuurlik tuisgemaakte beskuit by tannie Babsie geeet. Ek kan nie help
nie, maar ek is nou alweer so hartseer, ek sal hierdie webtuiste seker nooit op datum kry nie.

Die Vrydagoggend saam met Karin weer ontbyt gaan eet en toe
vir my oom-hulle in Bellville gaan hallo se. By hulle gekuier tot die middag seker na 4uur en toe weer na Piet-hulle.
Met oom Jan het dit op daardie stadium nie so goed gegaan nie, want sy been is afgesit, want die oom het suiker, maar
gelukkig nou gaan dit beter. Met Malan gaan dit ook goed, my Ma se ander broer, ons het hulle geselsies werklik geniet.
Toe ons by Piet-hulle aankom was hy al by die huis en toe moes ons net vinnig spring, want toe gaan ons Tafelberg
toe. Mense ek wens almal kon daarbo gewees het, nie wind nie, niks koud nie, dit was die lieflikste aand wat ons seker
op daardie Tafelberg kon spandeer het.





Ons het geloop en geklim, vra vir Lorna, ons was al
gatvol van klim, maar dit was die moeite werd, asemrowend!!!!! Natuurlik moes ons vir die sonsondergang wag en net daarna
het ons klomp gaan eet by een van die restaurante op die berg. Mens kon nie ophou kyk na die skoonheid daarbo nie en
wou nie he dat die aand moes omgaan nie.
Na ons ete en nadat ons vrouens toilet toe gegaan het,
maar dit is nie al nie, want toe wou Yvette nie wieps nie, want die toilet sit op 'n hoe verhoog, dit lyk asof ons op 'n troon
moet gaan sit, en Yvette het die besigheid nie vertrou nie. Wel, na die hele gedoe het ons afgegaan en toe vir 'n lekker
roomys!!
Saterdagoggend vroeg op en toe eers ontbyt gaan eet en toe
Ratanga Junction toe. Daar het die klomp hulle gate uit geniet.
Die aand gaan uiteet in Durbanville by Saddles en natuurlik
was dit 'n wenner. Sondagoggend Kerk toe en daar het ek natuurlik weer snot en trane gehuil, want dit was vir my net
te veel om weer met ons familie en ander Suid-Afrikaners saam die Here te aanbid. Gelukkig het ek ver vanaf Lorna gesit,
want anders was dit nou regtig moeilikheid soos ek sou gehuil het.
Toe na Kerk Canal Walk toe, want die klomp wou gaan ysskaats.
Johan het maar haak-haak begin, maar toe nie eers geval nie.
Natuurlik dit geniet en toe die aand sesuur gaan eet
by die lieflikste restaurant - Quarter-deck, met die heerlikste tipiese Kaapse disse en geregte. Ek het natuurlik my
weer ooreet, maar dit was die moeite werd. Mind you - ons almal het...
Ook die heerlikste warm poeding met vla geeet, aag nee, ek
kan nie meer skryf nie, want nou lek my oe nie net nie, maar my mond kwyl nou ook!!!!
Toe die Dinsdagoggend vroeg na Cobus-hul gevlieg. Daar
het hulle ons ingewag by die lughawe en natuurlik weereens gegroet en hartseer, soos gewoonlik - ai, darem lekker om mens
se familie weer te sien na so 'm lang tyd. Natuurlik weer koffie gedrink en toe huis toe.
Coeleen-hulle bly nou in 'n pragtige huis op die oord en is
dit so lekker ruim. Koffie gedrink en geeet en net lekker gesels. Die middag Lelanie by die skool gaan haal en
natuurlik die aand het Coeleen vir ons heerlik kos gemaak. My skoonsusters het ons verskriklik bederf, was dit nou nie
lekker nie!!!!!
Die volgende dag na die Pavillion gegaan (winkel-sentrum naby
Durban) en daar rond geloop en skoene natuurlik gekoop en ook mini gholf gespeel. So gelag natuurlik dat my maag so
seer was en toe 'n lekker Wimpy burger geeet. Die aand weer gebraai en natuurlik was die vleis heerlik.
Cobus-hul het ons toe na 'n voelpark naby Durban geneem met
die pragtigste voels wat mens amper aan kan vat. Daar was ook 'n "show" waar voels soos uile, "hornbull", blou kraan
voel, tot aasvoel deel van was - dit was wragtag pragtag. Al ooit so naby 'n Knysna Loerie gekom???
Ons by die voelpark - Johan, Cobus,Coeleen, Lelanie, Annecke
en Lize(Lelanie se vriendin) Ons het toe verder in die park rondgeloop en daarna toe deur Durban hawe toe waar ons by die
uitkykpunt oor Durban uitgekyk het - pragtig, met Lelanie en Lize wat agterop Cobus se bakkie is - Coeleen en ek het rustig
in die bakkie gesit.



Verder het hul ons na 'n nuwe winkelsentrum geneem (noord
van Durban) waar ons heerlik rond geloop het en toe gaan ten-pin-bowling speel, waar ons toe net daar en dan 'n liefde vir
ten-pin-bowling ontwikkel het. Johan het oor die lyn getrap en soos 'n os neergeslaan nadat hy gegly het op die ge-oliede
baan. Darem niks gebreek nie en het hy baie braaf probeer lyk om nie sy pyn te wys nie - sies-tog!! Daarna het die twee
broers gaan go-karts ry en was dit nou iets om te aanskou om die twee, wat skaars in die sitplekke kan inpas, met helmets
en al, om die baan te sien jaag - teen 'n vinnige spoed moet ek se. Maar wag, Johan se hy wil hierdie stukkie self tik om
aan te kondig wie gewen het...
(Johan)
... en die wenner van die go-karts resies was...
...die vlugtige...
...spoedige...
...vernuftige...
...meester van die baan...
Johan Marais !!!! - let wel die jonger
broer
aplous, aplous, aplous, aplous
(weer Annecke)
...ja, ja - sal ook nooit groot raak nie. Daarna het
ons almal weer by die Spur gaan eet. (Johan het dit nodig gehad, want hy het skoon gebewe van uitputting na die resies - lekker
onfiks). Toe eet hy weer Spur se witsous laat die sop spat, maar hy moes dit maar geniet - ons kry dit nie hier nie.
Verder het hul in die see geswem en het Johan dit baie geniet.
My swem vernuf laat dit nie toe om in die see te swem nie - ek hoor in elk geval dat Durban haai wereld is, so daar het ek
'n goeie verskoning - ha, ha.
Na 'n heerlike tyd by Coeleen-hul is ons toe die oggend
van die 18de oppad na ons treinrit. Natuurlik soos altyd was ek en Johan die laastes wat daar aangekom het. Ons
het sap gekry voordat ons by die trein in is en het hulle ons eers al die dinge verduidelik hoe die drie dae gaan verloop.
Eers in ons kompartement het my asem byna weg geslaan.
Dit was asemrowend - minibar, kluis en al. Die
bed en die badkamer veral was pragtig. Hulle diens is uitstekend. Elke keer wanneer ons uitgaan en ons kom terug
dan was hulle daar om die kamer op te ruim en glad ons klere terug in die kas gehang. Sjokolades op die kussing, vars blommetjies
op die tafel - hotel se moses. Die middag om 4uur het hulle ons uitgeneem vir 'n wildrit op Hluhluwe - Noord Natal. Dit
was ongelooflik mooi en het ons taamlik diere gesien. Daar het ek nogal skrikkerig geraak, want die renoster was byna
tot teenaan ons bakkie.
Ek was so bang dat iemand hom gaan kwaad maak, maar
gelukkig het alles goed verloop. Die aand terug op die trein het ons 'n formele ete gehad. Natuurlik ook weereens
uit die boeke - 6 gang maal en na die ete het ons 'n drankie in die sitkamer agter in die trein gaan drink.
Ons almal na die ete, Johan, ek, Nederlandse vrou, Nederlandse
man en sy vrou en die ander vrou se man en die twee hier voor is die twee vanaf Switzerland.
(Johan) - en kyk net hoe seksie lyk my vroutjie in haar Chinese
rok.... een van die voordele as ek die web moet laai is dat ek so 'n paar fotos ekstra kan inbring...
Volgende oggend om 5uur wakker gemaak vir 'n drie uur rit
in die bos in die Nkhaya wild reservaat in Swaziland. Dit was net so lekker en het ons ook lank agter olifante aan gery
om hulle te soek.
Die Amerikaners wat saam met ons op die bakkie was wou
met alle mag olifante sien. Na die drie ure het ons gestop by 'n lapa en heerlik verversings gekry. Dit was heerlik
- ons kan nou nog nie ophou praat daaroor nie.
Daarna is ons verder na Komatipoort op die Mosambiekse grens
en het ons by Malelane hek weer op 'n wildrit gegaan vir amper 3 uur. Ook leeus en olifante gesien - onder le die wyfie leeu
op haar sy.
Die trein is toe verder die aand tot by Waterval-onder, nadat
ons 'n heerlike Boma ete by die Malelane hek geniet het. Die oggend 7-uur het ons toe met die pragtige roete vanaf waterfval-onder
na Pretoria vertrek.
Ons het net na 7:00 in die eetwa gaan sit en ontbyt geniet
terwyl ons deur die ruit na die pragtige waterval an valleie gekyk het.
Daarna verder na Belfast en toe al die pad deur na Pretoria
met pragtige Kosmosse op die velde en moes ek eers bietjie son vang soos 'n dassie, veral na die vroeg opstaan.n
Ongeveer 'n uur voor Pretoria het ons gestop en het hul die
elektriese eenheid afgehaak en het ons gewag vir die stoom trein om aangehak te word.
Met groot verwagting het al 24 passasiers na middagete op
die peron gewag vir die stoomtrein. En was dit nou nie 'n pragtige gesig nie. Almal het fotos geneem en opgeklim om die kole
af te neem ...
... en toe is ons voort na Pretoria se Capital Park stasie
wat ons eindbestemming was.
Ons laaste dag op die trein net voordat ons ingaan by Pretoria.
Op Capital Park het oom Frikke, Ma en Helet ons kom haal. Was dit nou lekker om hulle te sien en toe eers by tannie
Helie-hul gaan koffie drink en koeksisters geeet. Toe is ons deur na tannie Helena in Johannesburg. Die aand het
ons so lekker geeet, want sy het lekker kerrie gehad en was dit nou lekker. Vroeg die aand val ons twee Marais' se oe
toe van die vaak en heerlik geslaap en die volgende oggend die heerlikste brunch weer gehad. Ma en oom Lourens het gaan
rondloop in die winkels en ons drie het by die huis gebly en gele in die koelte en gesels en weereens koeksisters geeet. Later
die middag het Lenard, Zonnika en klein Sean-hul daar aangekom en het ons die aand gebraai en heerlik geeet.
Dit was heerlik en lekker om klein Sean weer te sien.
Die kind was so verspot en het ons al die lawwe dinge geniet wat hy gedoen het. Hy roep net ... ANNAAAaaa!!! (vir
Johan se ma)
Volgende dag het ons gaan ontbyt eet in die wildtuintjie naby
t. Helena en toe deur die wildtuin gery. Toe weer na t. Helie-hul in Pretoria en toe begin ek alweer huilerig te raak,
want toe weet ek ons vakansie is byna verby.
Natuurlik netso lekker gekuier by t. Helie-hul en gaan koffie
drink by die Wimpy en wie kan die Sondagmiddag se ete vergeet en die poeding! Toe die middag na ete het ons Sammy
Marks huis toe gegaan in Pretoria. Dit was netso interessant en natuurlik nog skaars terug by die huis of ons
begin alweer te eet. Ons fotos van die laaste paar dae was nie op die digitale kamera geneem nie en moet ons eers die
ander kamera se spoel vol kry - sal die fotos dan laai.
Al wat ons net kan se die vakansie was so fantasties en ons
kan nie uitgepraat raak oor almal waar ons gekuier het nie en almal se moeite wat hulle gedoen het nie. Ons verlang
alweer en ek se julle ek het moeite om hierdie vakansie te vertel, want die trane sit naby, hoe kan mens jou mense ooit vergeet
en die land waarin jy groot geword het? Ons mis julle almal BAIE!!!
Dankie aan almal vir 'n heerlike vakansie en ons wens dat
ons langer by elke een kon gekuier het en dankie vir julle wat ons in Tygervallei gekry het vir 'n lekker middagete of ontbyt
ens. Sien julle weer - wanneer weet ons nie, maar almal sal altyd in ons gedagtes wees.
Gods rykste seen vir almal en baie liefde en groete
Annecke en Johan.
NB - vir verdere inligting oor die Rovos rail trein - gaan na:
Mei 2001 vakansie
Einde van seker een van die heerlikste weke vir ons albei hier in
Amerika - die rede - Johan was met 'n week verlof en kon ons bietjie op datum kom met goedjies hier by die huis en het ons
ook bietjie ontdekking gedoen van Noord Carolina.
Hy het ewe skielik Dinsdagaand die idee gekry dat ons na die berge
(Smokey Mountains) moet gaan. Ons het glad nie plek bespreek nie en weet nie eens of ons plek sou kry nie. Toe
kry hy die idee dat ons winkel toe moet gaan en 'n tent en al die ander bybehore moet gaan koop. Nou ja, ek het nog
nooit in my lewe gekamp nie, en ek was baie skepties oor die storie, want ek wou weet hoe ons in die tent gaan slaap ens.
Om 7uur weg na die winkels en toe alles gaan koop wat ons nodig het. Slaapsakke, tent, flitsligte, muskietgoed,
kos, ketels en dinge om kos mee te maak ens. Ons het by die huis gekom kom pak en die volgende oggend 10uur die pad
gevat.

Om twaalfuur het ons gestop langs die pad en 'n heerlike ontbyt
by die International House of Pancakes geeet. Ek het die heerlikste omelet gehad met drie klein pannekoekies. Daarna
die pad gevat en gery na die "Smokey Mountains". Langs die pad was ek maar stil, want ek het nie geweet wat om te verwag
nie, toe ons na 7ure by die plek arriveer toe verander ek my hele storie. Ons het tot by 'n dorpie met die naam Ashville
gery waar ons vandaar op die "Blue Ridge Parkway" gegaan het en toe het ons stop-stop gery om na die wonderlike natuur te
kyk. Die "Blue Ridge Parkway" is 'n pad wat gebou is om die Appalachiese (nie seker oor afrikaanse spelling nie - ons
probeer maar) berge deur te strek en is 'n roete wat spesifiek gebou is vir natuur liefhebbers met vele uitkyk punte, staproetes,
piekniek en kampeer terreine. Ons het vanaf Ashville verder wes gery alhoewel die res van die "blue Ridge Parkway" noord-oos
strek, het ons besluit om rigting "Great Smokey Mountains Nasional Park" te gaan.


Teen 'n spoed van nie meer as 35myl per uur het ons rustig deur
die berge gery en plek-plek gestop waar ons fotos geneem het, bietjie met mense gesels het en weer verder gegaan.
Twee ouer mense het gretig vir ons nader geroep by die een
uitkykpunt en deur hul teleskoop vir ons gewys waar 'n paar Amerikaanse valke broei teen 'n krans. Dan spring ons weer in
die bakkie na die volgende uitkykpunt.
In die gedeelte waar ons gery het (Suidelike gedeelte van
die "parkway") het ons seker deur 'n totaal van 12 - 15 tonnels gery - meeste tonnels so tussen 100 meter en 400 meter
- nie baie lang tonnels nie, maar wel heerlik om deur te ry.
Daar is ook in die park genoeg piekniek plek, waar ook toilette
is wat baie skoon en goed versorg is. Alhoewel die toilette nie reg teen die pad was nie, moes ons 'n entjie loop om
daar uit te kom, maar dit het ons ook kans gegee om ons bene te rek.
Dan weereens verder na die volgende uitkykpunt om weer daar vir
'n paar minute die uitsig te geniet.
Ongeveer 6:30 die aand het ons 'n kampeerterreinbordjie gesien en
dadelik die aanwysings gevolg met die hoop dat daar plek sal wees asook storte. Nadat ons 'n grondpaadjie gevolg het
vir ongeveer 'n myl het ons by 'n camper voertuig uitgekom wat die kampeerterrein kantoor was, waar die opsigter gebly het.
Teen $12.00 'n nag kon ons ons plot uitkies, siende dat daar net twee ander families was en het ons 'n plot gekies
met die pragtigste uitsig oor die "Blue Ridge" bergreeks. Ons het vinnig kamp opgeslaan(Johan het, want ek het lekker
gesit en na die natuur gekyk) en sommer twee bondels hout gekoop om vir die eerste keer by 'n lekker vuur te sit in amper
'n jaar.


Ons het sommer worsies gebraai vir aandete met 'n heerlike bottel
rooiwyn. Dit was heerlik en het ons die sonsondergang gesit en kyk oor die berge. Ek het nooit besef dat dit so
pragtig sal wees nie, maar ek dink die gogga het gebyt, want mens kan die gevoel nie beskryf as jy so in die natuur sit en
om mens is net doodse stilte nie.
Nadat ons heerlik geeet en gedrink het, het ons in ons slaapsakke
gespring en was ons uit soos kerse na die dag se opwinding.
Volgende oggend was ons so teen 7uur wakker en het ons reggemaak
om bacon en eiers vir ontbyt voor te berei en net toe die vuur al goed aan die gang was, die bacon al gaar was en nog net
die eiers wat gebak moet word - toe begin dit te reen. Nodeloos om te se moes ons inderhaas alles in die tent dra en
was die eiers in die tent gaargemaak en geeet.
Selfs na ete het dit nog steeds gereen en het ons besluit
om net lekker in die tent te bly totdat dit ophou reen, maar ongeveer 'n uur later kom ons agter dat die tent lek waar die
grondseill aan die tent vasgesit is. Toe is ons kampery klaar, want toe wou ek nie in die nat tent bly en die
nag nog daar slaap nie. Opgepak en tent opgeslaan en toe lekker gaan stort en eers om 12uur daar weg.
Ons het toe tot by Cherokee gery wat in die Indiaanse reservaat
is wat 'n absolute toeriste dorpie is, maar baie oulik. Ons het eers deur al die geskenke winkels, leerwinkels, geloop
en moes toe ook net iets warms koop vir my om aan te trek, siende dat die ander klere of nat of na rook geruik het van die
kamp.
Ons het verder besluit om na die bere te gaan kyk in die beerpark,
maar was dit eintlik hartseer om die bere in so 'n beperkte ruimte te sien waar alles basies van konkreet gebou is.
Die bere is wel bere wat "gered" is uit aanhouding en daar is selfs
een beer wat "gede-claw" is - baie hartseer. Daar was swart bere, bruin bere en ook 'n paar grizzly's, maar met soveel ruimte
om Cherokee kan ek nie insien hoekom hierdie diere nie in 'n meer natuurlik omgewing gehou kan word nie.
Natuurlik moes die liggaam gevoed word en het ons sommer vinnig
'n broodjie by 'n restaurant teen die rivier gaan eet. Daarna die pad gevat in die "Great Smokey Mountains" Nationale
Park, rigting Gatlinburg.
Weereens was dit 'n pragtige roete om te ry met die lieflikste uitsig
en riviere. Terwyl mens na Gatlinburg ry, verlaat jy North Carolina en is jy dan in Tennessee. Die "Smokey Mountains"
is bietjie styler as die Blue Ridge Mountains en is dit ook 'n pad wat mens stadiger moet ry, maar weereens miskien bietjie
mooier.
By Gatlinburg aangekom was dit duidelik ook 'n toeriste dorp
met flieks, put-putt, spelletjies, winkelsentrums en selfs 'n akwarium. Die dorp is wel baie mooi met 'n rivier wat
in die middel van die dorp deurvloei.
Ons het so bietjie rondgestap en het hul ook 'n winkel wat
hul eie sjokolades en lekkers maak waar ons noodgedwonge vir ons 'n dosie sjokolade moes koop. Teen 6uur die aand, besluit
ons om toe maar deur te druk terug huistoe en is ons toe terug rigting Cherokee, maar om hierdie keer die vinnige roete via
die interstate 40 terug te neem.
Toe ons deur Cherokee ry sien ons weer 'n ander gedeelte van die
dorp en by 'n "diner" gewaar ons toe aktiwiteit en moes ons eers aftrek. Daar was 'n orkes besig om in die hoofstraat
country musiek te speel met meeste ouer mense van die dorp wat so 'n paar dans stappies op 'n dansbaan geniet. Siende
dat dit toe by die "diner" was, moes Johan eers weer 'n cheese burger eet terwyl ons rustig na die musiek luister en kyk hoe
die mense hul self geniet op die dansbaan.
Na weer 'n keer se wik en weeg of ons sommer daar gaan oorslaap
of maar deur druk huistoe, het ons toe besluit om die pad aan te pak huistoe. Eers 8:15 die aand die "diner" verlaat
en toe die pad Ashville en dan na Cary. Ongeveer 2uur die oggend hier aangekom na 'n gladde terugreis.
Vrydagoggend opgestaan die bakkie uitgepak en net lui lekker by
die huis rondgele en ook die tent gaan terugruil. Ons is nou opsoek na 'n ander tent, want ons wil kyk om dit 'n maandelikse
of twee maandelikse instelling te maak om in die berge te gaan kamp vir 'n naweek.
Verder was daar ook vloede gewees hierdie naweek in Cary en
het ons 'n paar fotos geneem hier in die agterplaas wat ons weer volgende week sal oplaai en meer van vertel.
Tot volgende week
Baie liefde
Johan en Annecke
NB - vir meer inligting oor waar die parke gelee is - kyk gerus
na :
http://www.ncblueridge.com/
http://www.gorp.com/gorp/location/nc/nc_w.htm
Fotos van ons laaste besoek aan Pearly Beach - Kaap, RSA
- 1999