By die werk - Desember 2002
Nou ja, dis Desember en weer die einde van die kalender jaar en die middel van die fiskale jaar. Die ekonomie het nog nie terug gekeer na "normaal" nie en meeste IT maatskappye is besig om strategiee te verander en te kyk in watter gedeeltes van die markte hul nog besigheid kan uitpers. Dell rekenaars is besig om in die netwerk wereld(Cisco se tradisionele domein) in te beweeg met hul lae koste lokale area switches , terwyl alle IT maatskappye na die kommersiele en klein besighede begin kyk of daar enige addisionele moontlikheid is vir markte.
Die maatskappy se fokus is baie op leierskap ontwikkeling en spanwerk. Baie interresant hoe Cisco beweeg vanaf 'n tipiese internet maatskappy(vir die afgelope 12 jaar) en nou oor beweeg na 'n meer konserwatiewe, beplannings en strategiese maatskappy - nie dat ons nie strategies was nie, maar dit was maklik om strategies te wees terwyl daar nie genoeg produkte en verkoopspersone was vir die mark nie. Nou is dinge al amper vir twee jaar baie stadig en is daar groei en maak ons geld, maar glad nie die skaal waaraan almal gewoond was nie. Terwyl die aandele die afgelope twee jaar nie juis gegroei het nie.Ons is nou 'n dood gewone maatskappy (in 'n baie, baie goeie posisie as mens na ons kompetisie kyk) wat maar moet hard werk en baie goed en deeglik moet kyk na die markte en besluit op strategiee om die beste besigheidsbesluite te neem.
Is nog steeds baie dankbaar om deel te wees van Cisco en geniet dit, maar asof mense baie meer oor die kleiner dingetjies bekommerd is deesdae, teenoor die groter prentjie, wat die kliente is, natuurlik. Moet ook by se dat ek nie op hierdie stadium vir enige ander maatskappy in die IT bedryf sal wil werk nie, wat steeds vir my se dat ons nog in 'n baie goeie posisie is om die belangrikste bate van Cisco - sy mense - sal kan behou, selfs in die tye wat die ekonomie soveel mense wil laat kyk na ander moontlikhede.
Al vir nou.
Groete aan almal en geseende Christusfees.
Johan
2 November
Ons het sopas ons eerste kwartaal klaar gemaak en weet ons nog nie of ons, ons syfers gemaak het nie - ons sal op 6 November weet en vertrou ons dat ons dit sal maak. Ons sien dat ons nuwe kompetisie weer kry vanaf die PC mark - maatskappye soos Dell wat begin oorbeweeg na die netwerk kant, maar so doen ons weer dieselfde met optiese switches en gebeur dit maar oral. Daar is altyd kompetisie en moet mens maar net altyd die regte ding vir jou kliente doen en sal mens kan deurdruk, veral in moeilike ekonomiese tye soos wat ons nou in is. Die gevoel dat die IT industrie tussen een en twee jaar sal duur om weer terug te deins was baie optimisties, en is ons al amper op die twee jaar merk. Wel dit mag dalk nog twee jaar neem en lyk dit asof dit meer langtermyn sal wees.
al vir eers
groete aan almal
Johan
24 Augustus 2002
Einde van nog 'n finansiele jaar by Cisco (30 Julie) en ons is alweer in 'n nuwe finansiele jaar en 'n nuwe kwartaal. Ons syfers het goed gelyk en die aandele is darem op van net bo die $11 tot oor die $14, maar soos ons gewoond is die afgelope jaar of twee is dit soos Pearly Beach se see strome - jy weet nooit waar die strome is van dag tot dag nie - dit bly skuif. Nou ja - baie dieselfde met die Cisco aandele. Ons hoop maar dat dinge stabiliseer, maar alweer gehoor dat IBM nog 15 000 mense gaan afbetaal, terwyl Amerikaanse lugrederye soos United Airlines vir "Chapter 11" bankrotskap wil "file". Ander lugrederye soos American Airlines betaal nog 4000 mense af en so gaan dit aan. Laat mens net weer dankie se vir die werk wat jy het.
Verder is almal uitgeput na die (finansiele) jaar se werk en soos elke jaar, word Cisco se "Sales" vergadering in Augustus gehou, maar die keer in Los Angeles (laas jaar was dit in San Diego). Dit is 4 dae waar al die verkoops personeel bymekaar kom en die jaar se doelwitte en missies ontvang vanaf die senior visie presidente en John Chambers(Cisco se CEO). Dit is amper soos 'n "jumpstart" om al die verkoopsmense weer "excited" te kry oor die jaar se besigheid sodat almal weer vuur en flam terug gaan na hul kantore en kliente toe. Hierdie vergaderings is puik, want hier kry jy al die nuutste nuus oor ons produkte, kompetisie, die suksesse en fokus areas vir die (finansiele) jaar wat voor le.
Verder is dit ook weer evalueringstyd, en word al die dokumentasie en bonusse en nuwe verkoopsplanne uitgewerk vir die mense - lang vergadering - lewendige gesprekke en daar sal altyd iemand wees wat nie tevrede is nie. Sal nooit almal tevvrede kan stel en die balans reg kan hou met betrekking tot die regte besigheidsbesluit nie. Maar ons probeer dit so na as moontlik gebalanseerd te kry en te hou.
--------
Dit is nou al na die "Sales" vergadering in Los Angeles en ex-burgemeester van New York, Juliani, het ons kom toespreek. Dit was baie emosioneel, siende dat dit ook al amper 'n jaar is na die Sept, 11 New York aanvalle, maar meer daroor volgende keer, want die fotos moet nog gelaai word.
Eers al van my kant af - groete en als van die beste.
Johan
1 Julie 2002
Eers was dit Enron hier in Amerika wat groot opslae veroorsaak het en nou Worldcom. Waarom is dit dat gierigheid so 'n groot rol speel en veral in die senior bestuur van maatskappye?
Juis hierdie gierigheid wat veroorsaak dat soveel werkers se lewens beinvloed word - en meestal negatief. Mense verloor hul werk, die maatskappy verloor hul vertroue met hul aandeelhouers wat veroorsaak dat hulle hul aandele verkoop, wat beteken dat die aandele niks werd raak nie wat weer die werkers beinvloed, want meeste van die IT maatskappye maak aandele aan hul werkers beskikbaar.
So die werkers is die mense wat eerste aan die pen ry, want dit is hul brood op die tafel wat weggeneem word, dan is dit die aandeelhouers wat tweede kom. Alhoewel aandeelhouers gewoonlik meer as net in een maatskappy bele, is dit gewoonlik geld wat mens bereid is om 'n risiko te neem, so ja, dit vat aan die aandeelhouer se sak, maar persoonlik voel ek nie dat dit nie sy brood en botter is nie. In die geval wat dit wel so is, is die geld in die eerste plek verkeerd bele en moet die finansiele adviseur in die agterent geskop word as hy mense se brood en botter geld op die aandelemark wil bele. So wat is die basislyn? ... die persoon wat die meeste beinvloed word - die werker wat op werkloosheid moet lewe en in 'n goor ekonomie moet werk soek. Hoekom? Want senior bestuur van 'n maatskappy moet vir 'n slag nader aan die werkers kom en sien hoe dit is om volgens 'n begroting te werk, iets wat hulle nie juis aan dink nie want senior bestuur kry genoeg salaris en aandele om vir hul brood op die tafel te besorg vir 'n baie langer tyd as die werkers op die vloer (maak nie saak watter bedryf of industrie jy in is nie). Maar nog steeds ... wat moet senior bestuur doen?
Hier is my opinie en natuurlik is dit enige iemand se volste reg om van my te verskil, maar heel eerste moet senior bestuur DIE REGTE DING DOEN. Wat is die regte ding? Die eerlike, opregte besluit volgens waardes - watse waardes?? BYBELSE waardes. As jy 'n maatskappy eerlik bestuur en die regte besluite neem vir jou kliente, jou werkers en jou aandeelhouers, dan kan daar mos nie sulke dinge gebeur soos om Biljoene dollers te probeer verdoesel nie? INTEGRITEIT - as senior bestuur dit nie uitoefen nie, hoe kan mens vewag dat die res van die maatskappy dit doen - is dit nie dalk dieselfde met 'n land nie? As die regering nie met integriteit optree nie, hoe kan jy verwag dat die polisie, gevangenis en alle ander staats departemente nie die kabinet/senaat se voorbeeld gaan volg nie. En as die regering korrup is, dwing dit in meeste gevalle maatskappye om "work arounds" te soek om besigheid te doen met die (korrupte)staat. En voeg nog 'n koppie met "swak ekonomie" en 500 ml. "hoe inflasie" - meng dit dan met hoe misdaad, lae internationale vertroue, slapende kabinetslede, ens - wat kry jy? 'n Netjiese, goed gereisde , pragtig versierdie FLOP!!
Dit beteken nie dat maatskappye, regerings en individue nie foute maak nie - natuurlik maak ons foute, anders was ons nie mense nie en sou ons ook nie op hierdie aarde gewees het nie. En hier kom die moeilikste en mees onderskatte aksie van alles - maatskappye, regerings en individue moet hul foute erken met integriteit en dit regmaak, so gou en vinnig moontlik - nie probeer toesmeer en wegsteek nie. Dit sal wel uitkom en wat dan??
En as die fout so groot is, dan moet daar verantwoording voor gedoen word - al beteken dit dat dit jou werk/posisie/rang/salaris (en gaan maar aan) in gedrang is, of kan verloor. Maar dan moet dit ook met integriteit, eerlikheid en respek gedoen word, want... almal maak foute.
En dit alles het so 'n groot rippel effek van 'n eenvoudige basiese beginsels om die regte ding te doen, waar integriteit die maatstaf is. Waar beter kan mens dit nie leer as in die Bybel nie?
Nou wat het dit alles met my by die werk te doen? Wel, om in my verantwoordelikheidsgebied seker te maak dat ek die REGTE DING doen!
Doen ek dit? Ek probeer... en maak foute... en leer daruit... en probeer weer. Gelukkig (dank die Vader) nog nie 'n groot genoeg fout om my werk hier te verloor nie, maar deur die genade word geleenthede vir my geskep om elke keer te toets of ek die regte ding doen - van hoelaat ek huistoe gaan in die aand tot watter mense afbetaal moet word. Ek dink nie mens sal ooit ophou leer nie, maar terwyl jy leer "Doen die regte ding" ... se ek weer hardop vir myself.
Groete en liefde vir almal
Johan
1 Mei 2002
Nou ja, wat kan ek se. Op hierdie stadium is Cisco aandele maar lekker laag en na die Enron tabakel het al die maatskappye maar goed deurgeloop mbt aandele en hul boekhouding. Die laaste kwartaal(einde April) se syfers is nog nie vrygestel nie en sal ons maar sien hoe dit lyk. Maar ek voel baie gelukkig en dankbaar om deel van Cisco te wees in hierdie tyd, veral as ek na van ons kompetisie kyk (Nortel, Lucent, ens)
Aan ons kant is dit druk besig om beplanning vir die volgende fiskale jaar te doen en om so veel as moontlik dinge soos visie, missie en doelwitte vas te stel om dinge so duidelik en helder moontlik te maak vir die volgende jaar. Dit is vir my baie belangrik, want ek voel ek het dit nie goed gedoen in hierdie fiskale jaar nie.
Verder begin die voorbereiding weer om San Francisco en daarna Europa toe te gaan, asook die beplanning vir ons bestuurders vergadering einde Mei. Hierdie vergaderings gebeur elke kwartaal en elke keer kan ek nie glo dat 3 maande alweer verby is nie. Ek is tans besig om so veel as moontlik voorbereiding te doen en om minder takties betrokke te raak - 3 van die bestuurders is bevorder (natuurlik sonder maandelikse finansiele vergoeding - alleen aandele) wat beteken dat die verwagting sopas opskuif. Ek sou dit graag met finansiele vergoeding wou laat gepaard gaan, maar daar is nou al vir amper twee jaar nie meer verhogings nie en ook nie met bevorderings nie. Een van my voornemens is om in die toekoms vir mense te vra of hul promosie wil he, want die addisionele verwagting en verantwoordelikheid wat daarmee gepaard gaan beteken nie noodwendig dat almal altyd wil bevorder word nie.
Verder voel dit asof Cisco baie burokrasie begin kry, wat ons nooit gehad het nie - besluite word nie in alle opsigte meer gemaak vir die beswil van die besigheid nie, maar meer om prosedures te volg.... en ek voel dat sekere prosedures nie altyd opgestel is met alle aspekte van die besigheid in gedagte nie, maar dat mens noodgedwonge dit moet volg. Ek kan verstaan (veral as die ekonomie knor, soos dit nou doen) dat reels gevolg moet word, maar daar moet uitsonderings wees en dit moet volgens meriete gedoen word, wat die besigheid sal help. Maar weer moet ek se dat dit logies is dat die besigheid die prosesse moet dryf, nie die prosesse die besigheid nie.
Wel, ek is steeds baie dankbaar dat ek vir die maatskappy werk, want ek weet dat dit baie erger is in ander maatskappye en dat ek 'n verskil kan maak en net moet aanhou om te help waarsku dat ons nie die pendulum te ver moet laat swaai nie - ons moet 'n balans hou.
Nog iets wat ek wil verander hier in Amerika is die gewoonte dat die Amerikaners net 'n week se verlof neem. Ek is baie dankbaar dat my baas my toegelaat het om 3 weke verlof te neem - dit gebeur nie hier nie. Ook maat snaaks as hul in hierdie gewoonte grootgemaak is, maar wat ek wel weet is dat ek nie kan uitrus en "herlaai" in 'n week nie (en skaars in twee weke), so drie weke was vir my heerlik en kon ek weer met nuwe moed aan die werk spring toe ons terug is. Mens geniet dan sommer weer jou werk - probleme raak weer uitdagings en "issues" is daar om opgelos te word.
Eers al vir nou en gesels ons weer volgende keer verder
Dankie vir jul besoek en die Heer se Seen vir almal
Groete
Johan
 Cisco - Amsterdam.
16 Februarie2002
Nou ja, Einde van nog 'n jaar. Ons is verder besig om te krimp as 'n maatskappy(mense) en moes ons in Desember weer 'n SE (Systems Engineer) af betaal. Mens voel soos Scrooge om dit so op Kerstyd te doen.. Dit bly my maar dwars in die krop steek, maar nou ja...
Verder moes ek San Jose toe vlieg vir vergaderings, die Woensdag oggend weer hier in Raleigh, terwyl ek dan weer die middag moes uitvlieg Europa toe na ons kantore in Amsterdam, Brussles, Parys, Madrid, Milan, Munchen en Londen. As gevolg van die ekonomie wat maar knor, het ons besluit dat ons ons ondersteuning verhoudings gaan verhoog, m.a.w. waar ons nou 1 SE het om 8 AM(Account Managers - of sales reps) laat ondersteun, gaan ons dit nou verhoog na 10. Dit beteken dat die SE bestuurders sal moet herorganiseer, maar dit laat ek oor aan hulle, hoe dit die beste sal werk vir hul spanne.
Produktiwiteit is die groot fokus soos ons in hierdie jaar ingaan - om so veel moontlik met so min moontlik mense te doen. Betekende dat ons "tools" moet ontwikkel wat dit kan help. In Cisco is ons "revenue" per persoon hier by die $450 000 per persoon, terwyl die doelwit is om dit by $750 000 te kry en te rek na $ 1000 000 in die volgende jaar, na twee jaar.
Uitdagings, uitdagings - dis seker hoekom ons almal maar hou van ons werke - wat sou die lewe dan nou wees sonder een of ander uitdaging.
Groete aan almal
Johan
10 Desember 2001
Verskoon tog dat ek (Johan) geen nuus hier het nie, want meeste het Annecke reeds in die Maandelikse Nuus opgedateer.
By die werk - 21 Oktober
Nou ja - so baie het al gebeur sedert die laaste keer wat ek geskryf het. Ons het twee van ons "System Engineers" gestuur om te gaan help om die New York se Burgemeester kantoor se telefone op te koppel asook hul rekenaar netwerk stelsels - dit is albei deesdae een netwerk (foon en rekenaar oor een kabel, waar die rekenaar by die foon op koppel - baie goedkoper en dit werk goed - ons gebruik dit in die kantoor met ons telefone ook) Dit was 'n voorreg om mense te kan stuur en op so manier ook te help in New York, afgesien van die $6Miljoen wat Cisco vir die fonds geskenk het.
Ook is ons net klaar met ons "performance reviews" waar daar 'n onderste 5% geidentifiseer moet word in elke groep en dan word hul as "onder gemiddeld" gemerk. Dit is baie moeilik want vir baie mense is dit die eerste woord wat hul hiervan hoor, terwyl baie mense wat gedink het hul is bo gemiddeld, as gemniddeld gemerk word - nog moeiliker. Alleen 'n sekere aantal mense kan as bo-gemiddeld gemerk word, wat die res as gemiddeld laat bly, terwyl 5% as onder-gemiddeld gemerk moet word. Moeilike besprekings wat mens dan moet he met die mense en hul sluk swaar daaraan. Dit is ook nou maar een ding wat ek opgemerk het - na die besprekings is mense sommer flukser en probeer hul hulself bewys, terwyl ander dit net nie wil aanvaar nie en amper terug staan.
Verder het ons 'n ander groep oorgeneem wat verantwoordelik is om ons "Channel" te help om Cisco te verkoop - dit word natuurlik als oor die foon en netwerk gedoen. Cisco se "Channel" is bv Dimension Data of Getronics wat Cisco se produkte herverkoop. Hierdie groep is nou deel van ons verantwoordelikheid, maar ek voel hul is onder die verkeerde afdeling en alhoewel dit miskien 'n goeie ding is om meer verantwoordelikheid te he in hiedie tye, glo ek is dit nie die regte besigheids besluit nie en werk ek aan 'n voorstel om die groep onder die "Channels" groep in te kry, waar ek glo hul die meeste vir ons en die Channel sal beteken.
Verder moet ek weer na San Jose op Maandag , terwyl die Asie trippie soos 'n berg voor my le vir die einde van die maand - ek sien baie op daarna, maar nou ja...
Nortel - ons kompetisie - is besig om weer 'n klomp van hul mense af te betaal, maar gelukkig is daar darem nie weer sprake daarvan by ons nie - hoop dit bly so.
Verder geniet ek die werk nog bai, maar wens die reise hoef nie daar te wees nie, maar soos hul se - mens moet die wereld hanteer soos hy is - nie soos ond wens hy is nie - dan doen ons maar so!!
Groete aan almal
Johan
Kollegas by die werk
John (New Zeeland), Ted(North Carolina - NC), Mace (NC), Ron (NC) Ralph (Kanada), Dan(NC), Chris(tina) (Australie)
24 Junie 2001
Baie het gebeur gedurende die afgelope paar weke. Een van die dinge wat uitgestaan het, was toe John Morgridge voorsitter van die "board", ons besoek het en gepraat het oor uitdagings in die IT bedryf. Een van die vergelykings wat hy gebruik het was hoe mens moet aanpas volgens die omstandighede en die markte waar jy jou bevind. Hy het dit gedoen deur te verwys na die Engelse ontdekkingsreisiger Shackelton, wat met 'n span van 22 mans vasgekeer was in Antarktika, toe hul die eerste groep wou wees wat dwarsoor Antarktika wou reis. Ek is tans besig om die boek te lees en is dit ongelooflik wat die groep deurgemaak het gedurende hul twee jaar stryd om oorlewing, asook die leierskap wat onder sulke omstandighede uitgeoefen was. Verder het ek vergaderings in San Jose bygewoon vir die oorneem van 'n "helpdesk", maar die uitdaging bly steeds dat ons nie die nodige leierskap/bestuursposte het om die groep te lei nie, maar miskien sal ons teen volgende week finaal weet of ons hierdie groep moet oorneem, al dan nie. Die grootste uitdaging met hierdie onderhandelings is om persoonlike frustrasies en gevoelens eenkant te hou sonder dat dit die besluite sou beinvloed oor wat die beste besigheidsbesluit is in belang van Cisco.
Verdere besluite wat gemaak moet word voor die einde van die kwartaal is die heropdeling van die tegniese ondersteuning departement volgens die nuwe verkoopsorganisasie se struktuur. Dit beteken dat bestuurders uit hul gemaksposisie en spanne geneem sal moet word a..g.v. die herindeling so ek kan verwag om bietjie teenstand te ervaar met die herindeling. Bestuurders wat hul spanne al vir byna twee jaar bestuur gaan ek vra om ander spanne oor te neem en die rede vir die besluit is om die sterk punte van die bestuurders te gebruik te n voordeel van die organisasie. Die teen argument is dat die spanne wat al gebou is en wat sterk staan nou onder nuwe leierskap gaan wees en dat die leiers die spanne basies weer van vooraf sal moet opbou volgens hul eie bestuur style. Sal maar sien of dit die regte besluit was oor 'n kwartaal of twee.
Dit is dan eers al vir hierdie week
Groete
Johan
2 Junie 01
Was met 'n heerlike week-lank vakansie, so geen nuus aan die werk front, behalwe dat die Cisco aandele goed gestyg het, maar weer aan die einde van hierdie week terug is na $18 per aandeel. Soos die een finansiele ou gese het - party noem dit die aandele mark - ander noem dit Vegas...
Groete
Johan
27 Mei 2001
"n Lekker besige twee weke gewees en is die beplanning vir die kwartaal gedoen - ons het weer darem 'n mate van 'n begroting waarmee ons kan werk, m.a.w. die "travel" gaan weer begin. Ons is vol vertroue dat die ekonomie sy bodem geslaan het en die volgende stap is nou weer om 'n prentjie, visie, teiken te kry om vir die department te kry wat aansluit by Cisco se visie " Changing the way the world, works, lives, play & learn". Een van die idees wat uitgekom het is om weer die gevoel te kry die dag toe die media aangekondig het dat Cisco die grootste maatskappy ter wereld is, m.b.t. "market cap" (mark kapitaal) en onsself 'n teiken te gee om weer daar uit te kom so vinnig moontlik (met die hulp van die ekonomie, natuurlik). So ons almal begin nou daaraan werk om seker te maak dat dit ingeprent is in almal se gedagtes oor wat ons weer wil bereik en dat almal kan help om te besluit hoe ons daarby kan uitkom(ten minste die gedeelte wat ons self kan beinvloed) en dit tot uitvoering kan lei en nie net bly dink daaraan nie.
Verder is ek ook hierdie week (week van 28 Mei) bietjie met verlof en wil ek probeer om bietjie af te skakel - lol maar as al die dinge maal in jou kop, maar Annecke help my om elke nou en dan vir my te skril " hou op dink aan jou werk en gesels met my"!!!! So eers al wat die werk etref, want ek wil nie verder die week aan werk dink nie (te minste probeer).
Groete
13 Mei 01
Weereens oorgenoeg uitdagings hierdie week - baie mense het 'n "skuldgevoel" wat nou baie vurige humeure en dinge die lig laat sien. Dit is te verstane en voel mens baie dieselfde - "waarom is ek dan nie afbetaal nie"? Maar ek glo dat ons as Christene dit miskien makliker kan verwerk (maak nie saak watter kant ons is nie).
Die enigste manier, glo ek, is om almal weer gefokus te kry op die nuwe uitdagings, sodat die "mopper" gevoelens uit die weg geruim kan word dat mens kan aangaan. Cisco beplan om weer in Mei aandele uit te gee en behoort dit ook darem bietjie te help, want agv die swak ekonomie het baie afdelings nie verhogings gekry nie.
Aan die ander kant is dit 'n ideale geleentheid om die ou"spinnerakke" in die afdeling uit te stof met die reorganisering wat gebeur het. Die afdeling is dus nou weer uiteengesit met minder bestuurders (vanaf 5 na 4) maar beteken dit dat mens beter maniere moet vind om die spanne in te deel per bestuurder. Dit het ons inderdaad gedoen hierdie week en het ons die reorganisasie aangekondig sodat die bestuurders kan begin om hul norms en standaarde met hul nuwe spanne te kan bespreek en aan te pas. Hoe langer mens wag, hoe moeiliker raak dit, so... "voorwaarts!!!"
'n Paar "storming" aangeleenthede (eienskappe waardeur spanne gaan - Forming >Storming>Norming>Performing) is iets wat nou sterk tevore kom - selfs in ons leierskap span(miskien nog die skuldgevoelens van die afbetalings). Ons het komende Maandag ons kwartaalikse Leierskap vergadering waar ek hoop om hierdie dinge uit te sorteer deur 'n paar groep-oefeninge en deur 'n aantal vrae aan die leierskapspan te stel en dan deur die antwoorde te werk om seker te maak dat almal dieselfde visie en fokus het (en dat almal saamstem) wat hul in hul onderskeie spanne moet kan deurgee. Dit behoort die norme in die span te her-identifiseer sodat mens na die laaste twee stappe kan gaan "Norming>Performing". Die groot uitdaging is om die hele span by "performing" te laat kom so gou as moontlik, maar sonder om enige van die nodige stappe uit te laat en voldoende tyd te gee om deur elke stap te gaan. Die vrae het ek voorberei en sal ons sien wat die uiteinde van die oefening is.
Verder het ons ook weer begroting gekry - iets wat ons glad nie laas kwartaal gehad het nie, agv die besparings. Dit opsigself is ook 'n groot hulp, want sonder om geld vir opleiding, kursusse, reis & verblyf ens te he, beteken dat kommunikasie en opleiding deur alternatiewe metodes ("video op internet" opleiding, video konferensie en telefoon konferensies moet gebeur) - miskien nog vir een kwartaal, maar "face-to-face" kommunikasie is nodig, veral as kwartaalikse persoon tot persoon evaluasie en terugvoering gedoen moet word. Baie nodig vir "remote management".
Sal interresant wees om te sien of ek dit op die regte manier doen, anders moet ons maar net weer probeer tot ons dit reg doen.
groete
Johan
6 Mei 01
'n Heerlike kort week, siende dat ek Maandag en Dinsdag met verlof was. Alhoewel die afbetalings die vorige week al gedoen is, was die "na skokke" nog baie sigbaar en was daar steeds die laaste groepsbestuurders wat nog hierdie week afbetaal is. Die reorganisasie is al sterk oppad en beteken dat dit nou weer skouer aan die wiel is om produktiwiteit hoog te kan kry deur die nodige visie, doel en motivering uit te wys en spanwerk tot die volgende stap te neem. Ons volgende leier is aangekondig en het ek al voorheen saam met hom gewerk in Europa. Ons sal maar moet sien hoe en wat sy planne is met die groep, maar ek hoop hy het meer bygeleer oor leierskap gedurende die afgelope twee jaar wat hy by 'n ander afdeling was.
Die grootste uitdaging met spanwerk op hierdie stadium is dat elke bestuurder 'n verandering in hul spanne ondervind en dat selfs die leierskapspan ook moet aanpas en deur die "forming, storming, norming" en "performing" stadiums moet gaan. Ons is tans besig met "forming" (reorganisering) en wil ek so vinnig moontlik deur al die nodige fases gaan sodat mens by produktiwiteit kan uitkom. Het ook Saterdagnag 'n onderhoud met Jack Welchs van G.E. op t.v. geluister en het dit goed te pas gekom. Ook het hierdie week se diens baie goed te pas gekom siende dat dit oor die oksimoroon "dienaar-leier" gegaan het (voorbeeld wat Jesus was deur Sy dissipels te lei, maar ook gedien het deur bv. hul voete te was.) Dit laat mens maar net weer dink hoe 'n opregte leier moet optree wat vir sy mense omgee.
Eers al vir hierdie week - groete tot volgende keer........
(Geskryf -29 April 01)
'n ROWWE week gewees - dank die Vader dat dit oor is...
Maandag was "D-Day" by Cisco waar ongeveer 6000 - 7000 mense wereldwyd afbetaal is en het van die laaste afbetalings tot Woensdag nog gebeur. Daar is nog 'n paar lande in Europa wat eers vroeg volgende maand hierdie dinge kan finaliseer agv die mannekrag wette. Te minste is ons klaar in ons afdeling, wereldwyd en het ons een persoon in Europa, een in Australie en sewe in VSA verloor. Dit was slegs in my verantwoordeliksheid-gebied. In totaal het ons 140 mense alleen in ons afdeling afbetaal, waarvan die eerste my baas was - hy het die hele afdeling begin, so was daar baie vrae en onsekerheid, maar die grootste rede is dat die standaard gelig moet word... die ander is dat hy in alle geval wou aftree, maar wie sal werklik weet waarom hy gekies is - ons wag nou vir ons nuwe leier.
Dit was werklik 'n bitter-soet ondervinding, want aan die eenkant het ek gehoor dat ek nie bekommerd hoef te wees nie, want ek is "safe", terwyl jy weet soveel ander kollegas gaan hierdeur beinvloed word. Alhoewel Cisco 'n uitstekende pakket vir die mense gee, is dit nog steeds swaar en om dit vir mense mee te deel, terwyl hul dan vir jou stip aankyk en vra - "Wat moet ek dan vir my vrou se?... of net "Wat gaan dan nou gebeur?" terwyl mens weet dat dit 'n man met twee of drie kinders is, of sy pa le op sterwe, of die persoon het drie maande terug by Cisco begin en het "log, stock en barrel" hervestig hiernatoe, net soos ons... hierdie was een van die swaarste dinge wat ek in my loopbaan moes deurmaak en ek kan maar net bid dat ek nie weer hierdeur hoef te gaan nie. Ek weet soms nie wat die moeilikste is nie - om aan hierdie kant van die tafel te sit en die boodskap te gee, of om die boodskap te ontvang nie. Ek voel somtyds dat ek meer emosioneel was as seker van die kollegas vir wie ek die boodskap moes gee. Ek het geen probleem om so 'n boodskap te gee as dit iemand is wat nie hul kant bring, of nie inpas in die Cisco kultuur nie, maar ai - dis heeltemal anders om dit te doen as jy weet dit is goeie werkers, goeie mense en dan ken jy hul persoonlike uitdagings ook. "Bottom line" - dit moet gebeur, anders kan dit erger gevolge he op 'n later stadium en sou Cisco dan baie meer mense moes afbetaal.
Dit was baie interresant om te sien hoe John Chambers en die senior bestuur te werk gegaan het. Hul het baie diep gesny(totaal van tussen 8500 en 9000 mense is) - rofweg 15%-18%. Die redenasie was dat hul nie he Cisco in 'n siklus moet ingaan en weer oor 'n kwartaal deur dieselfde oefening moet gaan nie - dit is wat by ons kompetisie gebeur, deur elke keer net bietjie vir bietjie uit te sny, maar die proses hou aan en aan soos die ekonomie net nie wil reg trek nie. Cisco het besluit om een keer te sny en so te sny, dat as die ekonomie selfs nie in die volgende drie kwartale nie wil verbeter nie, dat ons steeds nie weer deur hierdie oefening hoef te gaan nie.
Nou dat ons daar deur is, verstaan ek dit en ondersteun ek dit ten volle - produktiwiteit die afgelope maand het baie afgeneem en enige poging om mense aan te spoor en te motiveer is basies onmoontlik - die enigste ding wat werk is om te kommunikeer en almal ingelig te hou en geleentheid te bied vir vrae en antwoorde - direk. Ek kan nie glo dat ons kompetisie (soos Lucent en Nortel) elke jaar (en soos Nortel wat dit alreeds drie maal die afgelope twee kwartale gedoen het) dit hanteer nie - dit moet verskriklik wees om dit oor en oor deur te gaan. Ek verstaan hul het selfs 'n term daarvoor, omdat dit elke jaar amper gebeur - "Springcleaning". Alle geval - niemand weet wat die ekonomie gaan maak nie en al het John Chambers so diep gesny, kan 'n diep genoeg duik in die ekonomie vir ons wys dat hulle steeds nie diep genoeg gesny het nie en dan mag ek dalk aan die ander kant sit - wat ook al gebeur glo en vertrou ons weer dat die Here mens deur al hierdie uitdagings lei en afgesien dat ek ontsettend baie geleer het (van myself ook), en definitief hoop om nooit weer so iets hoef te doen nie, weet ek dat mens sterker hieruit kom. Het vergeet en gaan nie nou opsoek nie, maar een van die Apostel skrywers het mos gese "as ons sterk is, is ons swak en as ons swak is, is ons sterk". Ek het so swak gevoel die afgelope maand met hierdie ding wat oor mens hang soos 'n donker wolk, maar dan besef mens hoe swak jy is, en waar en by wie jy jou hulp vandaan kry.
Nou ja - my hart uitgepraat - en is ons weer druk besig met re-organisasie om so vinnig moontlik ons kliente mee op te volg en seker te maak dat niks gemis is die afgelope paar weke nie en dat hul steeds ons grootste prioriteit is. Dan ook die motivering, erkenning vir die wat oor is en basies vir die leiergroep om van voor af hul mense te "re-recruit". Vertroue sal nou weer gewen moet word deur die leierskap en dit sal vinnig moet gebeur om produktiwiteit selfs beter te kry as voorheen - die doel is 'n bruto inkomste erkenningswaarde van $750 per persoon, met 'm "stretch goal" van $1 milj - Cisco werk meestal op "stretch" en dit is eerlikwaar 'n stretch en 'n goeie uitdaging.
Sekere analiste en selfs van die Cisco topbestuur wil voorgee dat die ekonomie sy bodem behaal het en dat dinge van nou af sal "level" en oor 'n kwartaal of twee weer gaan begin styg. Ek sal definitief nie weddenskappe maak nie, maar wat ek wel weet is dat die aandelemark, veral die Nasdaq, lekker laag is en dat dit 'n goeie tyd sal wees om te koop. Ek hoop maar ander mense dink ook so dat ons aandele prys weer kan begin klim. MAAR dit lyk asof al die slegte nuus vir hierdie kwartaal se syfers gebruik gaan word - ons gaan toerusting afskryf(wat te veel georder is en nou waarde verloor omdat mense nie koop nie), terwyl mense afbetaal is en die kliente steeds nog nie weer begin koop het nie. 3de Kwartaal se syfers behoort nie te goed te lyl nie, maar ons is reg vir die 4de kwartaal en dan sal die volgende Fiskale jaar(Begin Augustus) weer baie beter wees - wishfull tyhinking miskien?? - Miskien...
'n Baie moeilike week , maar baie bly dit is verby...
groete
Johan
nb - hierdie is my persoonlike opinies en moet daar geen afleidings gemaak word mbt Cisco se posisie, aksies en omstandighede in die mark nie - ek kan heeltemal verkeerd wees ;-)
(Geskryf - 20 April01)
Ek is nou so drie jaar by Cisco Systems (CSCO) en was tot drie maande gelede al drie jaar in Nederland. Ek dink dit was die verkeerde tyd om Amerika toe te kom in die middel van die ekonomiese uitdagings wat hierdie kant heers, maar dit help om te sien wat alles hierdie kant van die dam gebeur as die ekonomie nie so goed gaan nie.
Cisco doen natuurlik nou nie so goed nie en het ons, ons "target" gemis vir ons winste (alhowel dit nie verliese toon nie) is winste net baie minder as wat voorspel was. Dit was die tweede kwartaal in iets soos 45 kwartale wat Cisco sy syfers gemis het. Die rede - besighede spandeer net nie meer op IT (Informasie Tegnologie)nie en netwerk infrastruktuur hier in Amerika nie - waarom - geen idee nie. Ons kompetisie (waarvan die grootste Lucent & Nortel is) word net so hard geslaan en was Lucent al net so skrams van bankrotskap gered toe die Citibank groep(dit mag dalk 'n ander naam wees) vir hul uitgehelp het en 'n paar honderd miljoen dollar mee gehelp het.
Net soos al die ander IT maatskappye is Cisco nou ook besig om vir die eerste keer in sy geskiedenis mense af te betaal soos in 8000 tot 9000 mense, wereldwyd. Die proses is tans aan die gang en hoop Cisco om 23 April te begin en einde April klaar te wees. Daar is ook baie herstrukturering in die maatskappy, maar meerendeels hier in Amerika. Europa en Asia is ook al geraak, terwyl China (en snaaks genoeg) Japan nog sterk staan. Wat die kommuniste (China) doen is om in goeie tye te sotg dat hul "privaat industrie die land aan die gang hou, terwyl die staat begin spandeer as die ekonomie wil duik - dit hou die Chinese ekonomie aan die gang, so Cisco groei nog daar.
Persoonlik het ek nog niks oor myself gehoor van afbetaling nie, terwyl my baas alreeds weg is en hul nou besig is om te herstruktureer - 'n malhuis, met ongeveer 140 mense wat in ons afdeling wereldwyd geaffekteer word. Ek moet se dat dit seker van die moeilikste tye in my loopbaan is en kan ek nie wag vir volgende week wanneer ons afbetaling afgehandel behoort te wees in ons afdeling nie. Dan kan mens weer begin beplan en begin bou - nou moet ons nog "afbreek". Ek geniet dit nie, maar besef dat dit baie goeie ondervinding is wat ek meemaak en dat dit deel is van die lewe wat mens meer werd maak as mens kan oorleef in hierdie tyd - weereens is mens se eie kragte nie naastenby genoeg nie en steun ek swaar op die Here vir sy leiding en wysheid.
Daar is steeds baie hoop vir die toekoms en sien Cisco hierdie ekonomiese afdraand om weg te breek van ons kompetisie af, want dit is hier waar jy gemaak of gebreek kan word - en natuurlik glo ons dat ons die beste geposesioneer is om aan te pas(en vinnig ook) met die huidige ekonomiese vlak en dat dit ons sal verder wegtrek van ons kompetisie af en nuwe geleenthede in die Netwerk en Internetbedryf sal meebring. Baie interresant om te sien hoe John Chambers(CEO) te werk gaan met die werknemers en hoeveel kommunikasie plaasvind om die mense ingelig en gemotiveerd (vir hoe ver dit moontlik is terwyl mense afbetaal word) te hou, maar ons moet hierdeur om aan die anderkant van die ekonomie die vrugte te pluk.
Eers al van die werk se kant af...
groete
Johan
|